Inleiding
Gebore in Middelburg in Mpumalanga. 9 Junie 1956.Voltooi hoërskool aan Middelburg se Hoërskool aan die einde van 1974. Daarna vyf jaar Polisiediens, sewe jaar studeer aan die Universiteit van Pretoria en 12 jaar lank predikant in die NG Kerk Witfield Wes. Dit was baie lekker, maar daar is mos in elkeen se lewe ‘n tyd om aan te beweeg. Daarna baie dinge. Deeltydse dosent, konsultant, navorsing en nog navorsing. Oorgrote gedeelte van my tyd het gegaan aan die bou en ontwikkeling van Shadowmatch. Gaan kyk gerus by www.shadowmatch.com waaroor dit gaan.
Stokperdjies
My oorhoofse stokperdjie is om elke jaar met iets te begin wat nuut is. Ek doen dan
die nuwe ding vir ‘n jaar lank en begin daarna met iets anders. Soms kan ek van die
stokperdjies nie los nie. Of hulle wil my nie los nie.
Hier is’n lys van die goed wat ek al gedoen het as een-jaar stokperdjies:
-
Houtwerk – opgehou na een jaar.
-
Metaalwerk- opgehou na een jaar.
-
Motorkar herbou – drie keer. Nie weer nie. Opgehou.
-
Vlieglisensie – vlieg steeds. Eie vliegtuig.
-
Pottebakkery – opgehou na ‘n jaar. Sal dit weer doen.
-
Scuba duik – opgehou na ‘n jaar. Verveeld geraak.
-
Ultramaratons gedoen. Comrades gedoen – verveeld geraak. Opgehou.
-
Groentetuin – opgehou. Verveeld geraak.
-
Duiwe gevlieg – nie weer nie.
-
Leerwerk gedoen – maak egte leer sakke. Doen dit steeds.
-
Skryf – dit herhaal ek soos op die lys hierbo. Hou daarvan.
-
Leer kitaar speel. Les gegee. Doen dit nie regtig meer aktief nie. Was baie lekker.
-
Leer viool speel – doen dit steeds.
-
Leer klavier speel – doen dit steeds.
-
Leer tjello speel – doen dit steeds.
-
Leer saksofoon speel – hou nie daarvan nie.
-
Handskrifontleding – vier jaar. Volledig opgelei as handskrifontleder. Hou baie hiervan.
-
Meganiese horlosies – kursus en versamelaar. Doen die versamel deel steeds, maar so effens teen my sin. Ek kry dit nie reg om op te hou nie. Ek werk nie meer aan horlosies nie. Dis vervelig.
-
Sangles geneem vir ‘n jaar. Opgehou. Glad nie daarvan gehou nie.
-
‘Robotics’ kursus gedoen. Bietjie daarmee gespeel. Hou nie daarvan nie. Baie geleer.
Sport en Gunsteling Aktiwiteite:
-
Gholf – absoluut mal daaroor.
-
Muurbal – hou baie daarvan.
-
Draf en oefen om fiks te bly.
-
Om te gaan vlieg is waarskynlik een van die mees genotvolle dinge om te doen.
-
Skaak speel en brug speel as daar geleentheid is.
-
Ek het nooit rugby, krieket of sokker gespeel nie. Nooit. Hoekom Nie. Ek weet nie. Kyk ek dit? Ja, vreeslik graag.
Meer informasie
Ander dinge wat mense gewoonlik wil weet
Ek het drie kinders. Corien woon in Australië, Jaco en Michelle in Pretoria.
Getroud met Lizette. Ons speel saam gholf, werk saam, draf saam, gym saam, speel
saam tjello en leef gelukkig saam in Pretoria.
Oorsig van my lewe
Ek het op ‘n plaas groot geword. My ouers was gewone mense. Ek was net ‘n kind in ‘n gewone laerskool en ‘n gewone hoërskool. Alles in my lewe is net normaal en gewoon. Dit het een van my lewensfilosofië geword: ‘n Gewone lewe is ‘n baie goeie lewe. Ek was op universiteit ook net ‘n gewone, toegewyde en goeie student. Ek was ‘n gewone dominee met geen, soos in geen, uitstaande prestasies nie. Maar ek het so effens van ‘n obsessie. Ek het my lewe daaraan gewy om die gedrag van mense te verstaan. Hierdie ding in my het begin toe ek nog maar ‘n kind was. Ek het ‘n ding met mense. Ek lees oor die sielkunde van die mens, patrone in mense se gedrag, spiritualiteit, geloof en ek verwonder my aan die onverklaarbare kant van menswees. Hierdie effense obsessie het daartoe gelei dat ek die sisteem gebou het waaraan ek steeds werk en wat my ding geword het. Dit het eintlik my lewe geword. Ek is oortuig daarvan dat ons die kwaliteit van ons lewens kollektief as mensdom beslis kan verbeter. Ons kan hartseer en pyn verlig. Nie wegvat nie. Verlig. Ons kan beslis geweld teenoor mekaar baie minder maak. Ek weet nie hoe nie ,maar ek weet ons kan. Maar ek het nog ‘n klein obsessie. Ek is oortuig daarvan dat dit slegs moontlik is as ons vir mekaar geleenthede skep om suksesvol te wees in dit wat ons doen. Ons sal ons samelewing moet verander van een waarin ons teenoor mekaar kompeterend werk tot een waarin ons saam met mekaar werk vir sukses. Daar bestaan nie so iets dat iemand anders se mislukking my meer suksesvol maak nie. Of dat iemand se armoede my gaan ryk maak nie. Ek verafsku die gesegde: die een se dood is die ander se brood.
Op n ligter noot
Daar is, op ‘n ligter noot, ‘n paar goed wat en nie doen nie. Dalk meer as ‘n paar. Ek eet nie gister se kos wat gebêre is nie. Ek kyk nie ‘n fliek nie. Ek drink geen alkohol nie. Ek eet nie kool nie. Ook nie aspersies nie en ook nie kos wat vir my lyk of dit af is nie. Ek hou nie van ‘hollandaise sauce’ nie en ek swem nie in koue water nie. Ek hou nie van koudkry nie en ek dra nie jeans nie. Ook nie t-hemde nie. Hoekom nie? Sommer nie. Ek hou nie daarvan nie. Maar as ander mense dit dra lyk dit vir my soms heel OK. Ek hou nie van perfeksionisme nie, maar ook glad nie van halwe werk nie. Ek kyk nie sepies nie. Glad nie. Hou nie van teater nie. Glad nie. Hoekom nie? Ek weet nie. Ek hou nie van reis nie. Dit verveel my. Hou ook nie van jag en visvang nie. Glad nie. Ek kan nie regtig kuns waadeer nie, want dit lyk vir my alles dieselfde. Ek ry nie in die Wildtuin rond opsoek na diere om na te kyk nie, ek het geen troeteldiere nie. Maar ek gee vir die wilde duiwe kos. Ek weet nie regtig hoekom nie.
Die gewone goed
Dan is daar natuurlik gewone dinge waarvan ek baie hou. Behalwe die goed wat ek
nou al genoem het. Om te gaan stap in ‘n mooi woonbuurt. Nie langs die see of in
die berge nie. Of êrens in die een of ander eksotiese plek nie. Nee. My eerste keuse
is om te gaan stap in ‘n mooi netjiese woonbuurt. Ek hou van mense. Ek is mal oor
my vrou, my kinders, my kollegas, familie en vriende. En sommer alle ‘nice’ mense.
My gunstelling kos is mieliepap en boerewors. Ek weet dis nie gesond nie, maar dis
vreeslik lekker. Tweede gunsteling is ‘steak, egg and chips’. Dis ook nie gesond nie. Ek
weet. Ek hou van sport; kyk en speel. Ek's mal oor musiek; veral die musiek van die sestigs.
Ek hou daarvan om gedigte te lees. Ek lees nie maklik verhale en storieboeke nie,
maar ek hou daarvan om kort (baie kort) verhale te lees. Ek kan my verkyk aan mooi
tegnologie. ‘n Mooi horlosie, kar, enjin, vliegtuig, rekenaar, groot grondverskuiwings
masjienerie is pragtig, 'n mooi grassnyer of die binnekant van ‘n rekenaar of selfoon.
Allerhande mooi tegnologie vang my oog. Selfs ‘n mooi naaldwerkmasjien.
Uitsonderlike talente
Niks. Daar is wel iets wat ek regkry sonder om te probeer. Dis nie ‘n talent nie. Dis net iets wat ek maklik doen. Ek luister verskriklik aandagtig na wat mense sê. Vandat ek ‘n kind is doen ek dit. En as ek nie seker is wat iemand sê nie, probeer ek om so goed moontlik vrae te vra tot ek dink ek weet wat die persoon sê.
​​
-
ï‚·Face the Future (koop)
-
ï‚·Future Business. The game has Changed (koop)
-
ï‚·Call Centre Effectiveness (nie meer beskikbaar nie)
-
The Future of HR in an AI World (koop)​
-
Shadowmatch: The Full Story (laai af)
-
Shadowmatch. Success for All (laai af)
-
A Simplified Model for Understanding Behavior (laai af) of (koop)
-
Our Future Wold (koop)
-
Geloof is Grys (koop)
-
Jou Gedagtes (Gedigte) (nie meer beskikbaar nie)
​
​
Tans in Publikasie Fase
-
Eenvoud
-
ï‚·Sprokies wat Gryp (Sprokies vir kinders tussen 5 en 12 jaar)
​
​